| |

Met trane in sy oë het 'n duidelik
geskokte transseksueel wat besig is om sy geslag in dié van 'n vrou te
verander na die selle gestap nadat hy in die plaaslike streekhof tot vyf
jaar tronkstraf gevonnis is.
Vroeër het mnr. Jeanin-Lee van
Loggerenberg (38) aan Rapport gesê hy sal 'n "teiken" vir verkragting in
'n manstronk wees "omdat ek reeds halfpad vrou is".
Van Loggerenberg se vrou, met wie hy reeds vier jaar getroud is, mev.
Welna van Loggerenberg, 'n inspekteur in die speurdiens in Witbank, was
ook erg ontsteld ná die vonnisoplegging. Sy het haar man na die selle
vergesel om van hom afskeid te neem.
Van Loggerenberg is verlede Vrydagmiddag deur streeklanddros Marlene
Greyvenstein vir vyf jaar tronk toe gestuur nadat hy vroeër skuldig bevind
is aan die besit van meer as R66 000 se vervalste geldnote.
In vonnisoplegging het Greyvenstein gesê sy het begrip vir Van
Loggerenberg se seksuele probleme en dat die hof dit in aanmerking geneem
het.
"Die hof het geen twyfel dat jy erg traumatiese tye deurgemaak het nie.
Getuienis is daaroor gelewer. Op verskeie vlakke van die samelewing is jy
nie sosiaal aanvaarbaar nie. Jy is gespot en verneder deur klasmaats en kollegas. Maar dis geen rede om misdaad te pleeg nie. Hoekom word jou seksuele
probleme ingebring by jou oneerlike bedrywighede?"
Van Loggerenberg het verskeie vorige veroordelings. Hy is in 1984 twee
keer skuldig bevind aan diefstal en in 1987 aan veediefstal. Hy is ook
skuldig bevind aan kwaadwillige saakbeskadiging.
"Die hof het ernstige twyfel oor jou berou. Almal het berou en is jammer
as hulle gevang word. Jou vrou het ter versagting vir jou getuig en dis
duidelik dat sy baie lief is vir jou.
"Maar die feit is dat jy nie 'n eerste oortreder is nie. Jy het al geproe
wat dit is en hoe dit voel om in die tronk te wees. Verder het jy ook
vantevore van jou parool-voorwaardes verbreek," het Greyvenstein gesê.
Ter versagting het Van Loggerenberg se vrou getuig: "Ek en hy was albei
geskei toe ons mekaar ontmoet het. Sowat agt maande ná ons troue (vier
jaar gelede) het alles uitgekom en het hy my die volle waarheid vertel. "Vir
my was dit aanvanklik 'n geweldige skok. Maar ek kon ook later die
positiewe veranderings in hom sien. Toe ek hom ontmoet het, het hy 'n
drankprobleem gehad en hy was op pad om 'n vernietigende monster te word.
Nou is hy lief vir blomme, sit van my rekkies in sy hare en gebruik my
parfuum. Hy het sulke wonderlike eienskappe en ons albei is wedergebore,"
het sy vrou in trane getuig."
'n Amptenaar van korrektiewe dienste, mnr.
Leonard van Lewen, wat werksaam is in die Witbank-gevangenis, het getuig
hulle sal Van Loggerenberg wel kan huisves. Op 'n vraag van die landdros
het hy gesê die beskuldigde sal in 'n enkelsel in 'n tronk vir mans
aangehou word.
"As hy in 'n enkelsel aangehou word, verminder dit die moontlikheid van
verkragting aansienlik. Die meeste gevalle van verkragting en sodomie kom
in gewone selle voor. Die behandeling wat hy tans ontvang, sal voortgesit
kan word. Hy sal nie daarvan weerhou word nie, maar hy sal self daarvoor
moet betaal."
Op die vraag van Van Loggerenberg, wat sy eie verdediging behartig het,
aan Van Lewen of hulle sy veiligheid in die tronk kan waarborg, het hy
gesê niemand kan 'n persoon se veiligheid heeltemal waarborg nie.
Voor vonnisoplegging het Van Loggerenberg die hof gevra om hom 'n
opgeskorte vonnis te gee. "Ek het my samewerking gegee, het skuld beken en
was eerlik. Ek is nou afhanklik van die mense om my vir die pad wat ek
loop. Waarmee ek nou besig is, beplan ek al 'n leeftyd - nie net
liggaamlik nie, maar ook geestelik."
Van Loggerenberg het twee jaar gelede begin met hormoonbehandeling as die
eerste fase van 'n geslagsverandering. Hy het reeds borste, maar ander
operasies lê nog voor. Die operasie wat hom die onderlyf van 'n vrou sal
gee, kos tot R200 000 en hy twyfel of hy dit sal kan laat doen terwyl hy
in die tronk is.
Sy vrou sê sy staan by hom en sal vir hom wag. "Hy is 'n wonderlike mens
en verdien om 'n regte kans in die lewe te kry," sê sy.
Bron: Net-Rapport, 22 juni 2002
Door: Leon Coetzee |
|